Net Soos Ek en Jy
We're glad you like it!
Enjoying the content? You can save this to your favourites by logging in to your account.
Matteus 9:10,11 Jesus het by hom in sy huis gaan eet, en baie tollenaars en sondaars het saam met Jesus en sy dissipels kom eet. Toe die Fariseërs dit sien, vra hulle vir sy dissipels: “Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?”
Kan jy jouself indink hoe besig God vandag moet wees? Seker nie regtig nie! Maar dink jy daar bestaan dalk ‘n moontlikheid, selfs die skraalste moontlikheid, dat Hy vandag in dit, wat in jou lewe aangaan, belangstel? Hoe dink jy?
Kyk na hierdie verstommende statistieke: die gesamentlike jaarlikse inkomste van die vyftig top maatskappye in die wêreld is groter as die gesamentlike bruto binnelandse produk van die vyftig armste lande waar, terloops, meer as die helfte van die wêreld se bevolking woon. Sjoe!
Dit is vir my verbysterend hoe groot maatskappye kan aanhou groei. Universele handelsname wat ons almal ken: Amazon, Apple, Facebook, Google, Coca Cola, McDonalds, Nike. Maar maak nie saak hoe groot hulle is nie, hoeveel miljarde hulle omset is nie, hoeveel wins hulle aan hul aandeelhouers lewer nie … elkeen van hulle bestaan uit individue soos ek en jy. Dit wil sê miljoene gewone, alledaagse mense net soos ek en jy, wat daagliks by die werk opdaag.
En wanneer ons hoor van ‘n natuurramp of ‘n oorlogsramp in een van die armer lande, waar ontelbare mense dakloos gelaat is, ontelbare mense ly en sterf, is hulle nie statistieke nie; nee, hulle is mense, gesinne, ouers en kinders … net soos ek en jy.
Hierdie wêreld, as jy mooi daaraan dink; bestaan uit etlike miljarde onbelangrike, gewone mensies met klein verhaaltjies – sommiges gelukkig, ander hartseer, ander werklik tragies.
Miskien is dit hoekom Jesus by hierdie mensies gekuier het; die vissers, die tollenaars, die melaatses, die bedelaars, die prostitute. Ons lees in:
Matteus 9:10,11 Jesus het by hom in sy huis gaan eet, en baie tollenaars en sondaars het saam met Jesus en sy dissipels kom eet. Toe die Fariseërs dit sien, vra hulle vir sy dissipels: “Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?”
Hoekom? Omdat Hy die gewone mense kom red het. Mense net soos ek en jy.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.